Beplanning kan afdankings verhinder

Beplanning kan afdankings verhinder

Johannesburg. – Grootskaalse afdankings in ’n daalfase van ’n sakesiklus kan voorkom word deur deeglike beplanning in die bloeitydperke.

Dít is nie iets waaraan Suid-Afrikaanse maatskappye hulle in goeie tye steur nie.

Mnr. Arjen de Bruin, direkteur by die konsultasiemaatskappy OIM, sê ’n kenmerk van Suid-Afrikaanse maatskappye is om in ’n daalfase deur die bank personeel te verminder in ’n poging om koste te besnoei.

“Dit is nie die regte strategie nie omdat die maatskappye se enigste doel is om koste te besnoei,” sê hy. In die proses verloor hulle dikwels uit die oog dat hulle in die volgende opswaai weer mense sal moet aanstel.

De Bruin sê voordat ’n besluit geneem word oor die aantal mense wat afgelê moet word, moet die maatskappy sy vooruitsigte ontleed asook die aantal mense wat hy gaan nodig hê om ná die afleggings diens van dieselfde gehalte te lewer.

“As ’n sekere persentasie mense regdeur die maatskappy afgelê word sonder enige toekomsbeplanning, loop die maatskappy die gevaar om òf te veel òf te min mense af te dank,” sê De Bruin. Dit kan ’n maatskappye ewe duur te staan kom.

Maatskappye wat te veel mense aflê, sny nie net die vet uit nie, maar dikwels ook die spiere. Dit beteken volgens De Bruin dat daar nie genoeg produktiewe mense met die regte vaardighede is om in die opswaaifase die nodige dienste te lewer nie.

In die opswaaifase moet nuwe aanstellings gedoen word en dit bring bykomende koste mee.

In gevalle waar te min mense afgelê word, is dit dikwels nodig om binne ’n kort tyd nóg mense af te lê. Dit is demoraliserend en uiteindelik is die werkers wat oor is, nie meer gewillig om in die onsekerheid te werk nie.

“Die kringloop wat aan die gang gesit word as te veel óf te min mense afgelê word, raak selfvernietigend.”

OIM se navorsing oor gevalle waar afleggings voorkom, toon dat min maatskappye sorg dra dat die regte mense met die nodige vaardighede agterbly sodat produktiwiteit nie in die slag bly nie.

Uit die navorsing blyk dit dat die gemiddelde arbeidsproduktiwiteit in administratiewe kantore en fabrieksvloere net 50% is.

“Dit dui daarop dat toesighouers nie voldoende opgelei is om seker te maak dat afleggings met verbeterings in produktiwiteit gepaardgaan nie.”

De Bruin sê nog ’n kenmerk van Suid-Afrikaanse maatskappye is dat vooruitbeplanning ten opsigte van mannekrag in die goeie tye gebrekkig is.

Dit noodsaak dan afleggings in slegte tye.

Hy sê maatskappye wat reageer op maandelikse statistieke van uitset en mannekrag, gaan selde in ’n situasie beland waar grootskaalse afleggings nodig gaan wees omdat hulle vroegtydig gaan agterkom wanneer ’n insinking verwag kan word.

Die eenvoudige oplossing is dan om nie vakante poste te vul nie omdat groeisyfers reeds aangepas word vir ’n moontlike afswaai in die siklus.