Goeie maniere kan jou loopbaan help

Goeie maniere kan jou loopbaan help

Daar is ‘n gesegde dat goeie maniere deure kan oopmaak wat selfs die beste opleiding nie kan nie.

Jonger werknemers wat etiket in die werkplek vroeg bemeester en ‘n professionele beeld uitstraal, trek die aandag en word deur hul seniors raakgesien, sê Nicole Williams, direkteur van skakeling by die sakenetwerk LinkedIn.

“Ek het al gesien dat jong werknemers met hope talent nie uitstyg nie omdat hulle nie goeie maniere het nie en nie respek betoon teenoor kollegas en klante nie.”

‘n Werknemer se professionaliteit word gemeet aan die mate waarin sy werkgewer op hom kan staatmaak – ook om te voldoen aan die norme en verwagtinge van die sakewêreld en die samelewing.

“Dit maak saak dat jy betyds opdaag vir werk, respek betoon aan jou klante deur professioneel aan te trek, en te onthou om ‘asseblief’ en ‘dankie’ te sê soos jou ma jou geleer het.”

Sou jy besluit om jou nie aan dié reëls te steur nie, bewys jy jouself ‘n onguns, waarsku Williams.

In ‘n oopplan-werkomgewing raak goeie maniere onontbeerlik vir produktiwiteit en harmonie, sê Graham Bentley, besturende direkteur van die personeelwerwingsgroep Kelly in Suid-Afrika.

“Dit is ‘n kwessie van wedersydse respek toon. As kollegas in ‘n oopplan-kantoor hard gesels of deurentyd op die foon klets, sukkel ‘n mens om te konsentreer. Dus moet almal mekaar in ag neem.”

In ‘n peiling oor professionaliteit in die werkplek wat verlede jaar onder mensehulpbronbestuurders en senior bestuurslui gedoen is, is bevind dat interpersoonlike vaardighede die hoogste aangeslaan word as ‘n professionele vaardigheid.

Tot 33,6% van die respondente het dit boaan hul lys geplaas.

Interpersoonlike vaardighede is deur die navorsers van York College in Pennsilvanië beskryf as “etiket, hoflikheid, die betoon van respek en gedrag wat gepas vir die werkplek is”.

Tweede op hul lys was ‘n netjiese voorkoms (25%), gevolg deur goeie kommunikasievaardighede (24,9%) en tydsbestuur (20,8%).

Die sleutel tot goeie interpersoonlike vaardighede is eintlik om eerste aan jou intrapersoonlike vaardighede te slyp, sê Tjaart Minnaar, besturende direkteur van OIM International.

“Dit vereis ‘n bewustheid van jou persoonlike waardes en identiteit, en ‘n vermoë om jou emosies te bemeester en veerkragtigheid in die werkplek te kweek.”

Minnaar sê werkgewers kyk deesdae skerper na werknemers se emosionele intelligensie, oftewel hul vermoë om bewus te wees van hul eie én van ander se emosies.

Die werkplek se afhanklikheid van tegnologie, veral om te kommunikeer, dra ook daartoe by dat mense ál meer afgestomp raak en weer eens is dit veral jonger werknemers wat aan die kortste ent trek.

In York College se peiling oor professionaliteit is ook bevind dat tot 83% van jonger werknemers op ongeleë tye, soos op vergaderings, teksboodskappe gestuur het.

“Ondanks die oorheersing van tegnologie word dit steeds as slegte maniere beskou wanneer iemand op ‘n vergadering met sy foon vroetel of nie aandag gee as iemand ‘n toespraak lewer nie,” sê Eliza Browning, visepresident van Crane Digital, in ‘n artikel oor sake-etiket wat in die aanlyn publikasie INC verskyn het.

“Fokus op die gesig, nie op die skerm nie. Sit die foon af. Moenie kyk of jy epos kry nie. Wees wakker en wees teenwoordig,” sê Browning.

Só lyk goeie maniere by die werkplek:

  • Name is belangrik. Onthou die name van mense aan wie jy voorgestel word. Maak ook seker dat jy die name reg spel as jy epos stuur en maak veral seker dat jy die persoon se regte posbenaming byvoeg wanneer jy hom of haar aan iemand anders voorstel.
  • Moenie kritiseer nie. ‘n Mens mag verskil oor hoe ‘n kollega ‘n spesifieke situasie gehanteer het, maar dis nie jou plig om ander te beoordeel op grond van jou persepsie van reg of verkeerd nie. Jy is verantwoordelik vir jouself en jou eie gedrag.
  • Wees bedagsaam wanneer jy ander se tyd gebruik. Vra of dit geleë is om te praat as jy iemand bel, moenie laat kom vir afsprake nie en hou jou bespreking kort en kragtig as jy kwessies op vergaderings aanroer.
  • Stuur ‘n dankiebrief: Dit is ‘n kuns om vir iemand ‘n bedankingsbrief te stuur, maar dit is een wat jy moet bemeester as jy verhoudinge wil bou. As iemand ekstra moeite vir jou gedoen het, behoort jy hom of haar spesiaal te bedank.