06 Jan Let betyds op na tekens van konflik
Die vlaag stakings in die mynbou-, padvrag- en Wes-Kaapse landboubedryf het ‘n klimaat geskep waarin geweld en moeilike gedrag beleef word.
Chris Jacobs, ‘n kenner in konflikoplossing by die konsultasiemaatskappy OIM Internasional, sê voortslepende stakings sal maatskappye met geen ander keuse laat as om werkers af te dank of om te meganiseer om koste te bespaar nie.
“Baie maatskappye het strategieë wat fokus op werwing, werknemer-tevredenheid en om werknemers te behou, maar min het langtermynstrategieë om ‘n stabiele en produktiewe werkmag te bestuur,” sê Jacobs.
Hy sê maatskappye moet ‘n omvattende strategie vir werknemersverhoudinge instel om soortgelyke stakings in die toekoms te voorkom.
Só ‘n strategie moet op drie dinge fokus: die skep van die regte korporatiewe kultuur en werksomgewing, kommunikasie met alle belanghebbendes en opleiding van die werksmag om beter begrip te bevorder en om spanleiers te bemagtig.
Volgens Jacobs sal dit tot ‘n “vennootskap” lei, wat beteken elke werknemer het ‘n belang in die maatskappy se sukses.
Die maatskappy moet begin deur ‘n regverdige werkplek te skep met die regte beleide, praktyke en prosedures wat by die maatskappy se kultuur inpas. Dit kan dissiplinêre kodes en praktyke oor diensbillikheid insluit wat konsekwent toegepas word.
Boonop moet bestuurders en toesighouers behoorlik opgelei word sodat hulle kan bydra tot ‘n positiewe en stabiele werkplek.
“Die werknemers moet verstaan waarheen die maatskappy op pad is in terme van strategie en wat dit beteken vir die doelwitte wat op hulle van toepassing is,” sê Jacobs.
Hy sê werknemers wat ingelig en betrokke is, is geneig om eienaarskap van hul eie werk te neem. Hy meen dit maak dit moeiliker vir vals inligting om ‘n invloed te hê.
Volgens Jacobs het die stakings in die mynboubedryf gewys dit is ‘n reuse-fout van bestuurders om toe te laat dat vakbonde as die primêre woordvoerder optree.
Hy sê oop en eerlike kommunikasie regstreeks met die werknemers sal toelaat dat korrekte en konsekwente boodskappe by hulle uitkom.
“Bestuurders moet gereeld met hul spanne binne formele bedryfstrukture kommunikeer oor die kwessies waaroor hulle bekommerd is,” sê Jacobs. Dit sluit in besprekings oor die maatskappy se strategie en organisatoriese waardes sodat almal saam risiko’s kan identifiseer en oplossings kan vind.
Jacobs sê om werknemers op alle vlakke op te lei sal ‘n gebalanseerde werksmag verseker. Hy meen hulle kan opleiding kry oor politieke en ekonomiese werklikhede, arbeidsregte en verantwoordelikhede, bedryfspesifieke ontwikkelinge, nuwe wetgewing, produktiwiteit en mensebestuur.
Dít sal werknemers se verwysingsraamwerke vergroot en hulle help om die impak van hul rol in die sukses van die onderneming te verstaan.
“Sodra mense verstaan dat hul eie welvaart aan die sukses van die onderneming gekoppel is, raak hulle meer aktief betrokke en meer produktief,” sê Jacobs. Hy sê wanneer werknemers deel is van die proses van waardeskepping, kan hulle ook deel in dié waarde wanneer die maatskappy suksesvol is. “Hulle hoef nie altyd met geld beloon te word nie,” sê hy.
Die maatskappy kan byvoorbeeld maatskaplik-ekonomiese infrastruktuur in sy werkmag se gemeenskappe bou.
Hy sê mensebestuurders, vakbondverteenwoordigers en leiers in die algemeen moet opgelei word in konflikoplossing en arbeidsverhoudinge. Hy sê dit sal hulle help om tendense te interpreteer en om konfliksituasies te identifiseer voordat dit op iets uitloop.