Mensehulpbronne ‘moet leiding neem’

Mensehulpbronne ‘moet leiding neem’

Amcu-groei ‘hou risiko in’

Die vinnige groei van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) hou ‘n risiko vir werkgewers in, sê Chris Jacobs, direkteur van die sakekonsultantfirma OIM International. Die behoorlike opleiding van werkplekverteenwoordigers bly agterweë. Ingeligte werkplekverteenwoordigers is ‘n sleutel tot ‘n doeltreffende vennootskap tussen die werkgewer en werkers. Jare gelede was daar baie geld van veral Nordiese lande beskikbaar vir dié doel, maar dit is nie meer die geval nie, sê Jacobs.

Pretoria. – Medupi-werkers se ontevredenheid oor hul bonus, mynwerkers by Marikana se hoë skuldvlakke en minimum lone van plaaswerkers waarop hulle kwalik kon leef, het die afgelope paar maande bygedra tot vernietigende protesoptrede.

Dié gebeure het koue rillings teen Suid-Afrikaners se rug afgestuur en die omvang daarvan was so groot dat dit volhoubaarheid bedreig.

Dít plaas die rol van mensehulpbronne-afdelings in risikobestuur in die kollig.
Risikobestuur is sentraal in die King III-kode oor korporatiewe bestuur en ‘n mens moet vra of goeie mensehulpbronnebestuur ‘n verskil kan maak, sê prof. Willem Landman, uitvoerende direkteur van die Etiek-instituut van Suid-Afrika.

Mike Upton, uitvoerende hoof van die konstruksiegroep Group Five, sê arbeid hou tans enorme risiko’s in en mensehulpbronnebestuur is kritiek daarin.

Sommige maatskappyhoofde skryf die arbeidsonrus toe aan “politieke faktore”, maar Chris Jacobs, direkteur van die sakekonsultante OIM International, sê dit is ‘n manier om verantwoordelikheid te verskuif. Jacobs spesialiseer in arbeidsverhoudinge en konflikoplossing.

“Daar sal altyd politiekery aan albei kante wees,” sê Jacobs.

“Werkers met ‘n probleem moes in die verlede by lynbestuurders hoor: ‘Gaan vra vir Mandela,’ en later: ‘Gaan vra vir Malema.’ ”

Tot nou toe was die klem op kollektiewe arbeidsbetrekkinge. Die werkgewer het met die grootste vakbond gepraat en dit aan die vakbond oorgelaat om inligting aan sy lede oor te dra.
“Die bestuur moet regstreeks met werknemers kommunikeer, anders laat hy ruimte vir ‘vals profete’ om hul eie vertolking te gee,” sê Jacobs.

Saam met kollektiewe arbeidsbetrekkinge moet daar groter klem op proaktiewe werknemerverhoudinge wees.

Die mensehulpbronne-afdeling moet deurlopend weet wat die vlak van tevredenheid onder werkers is en die klimaat en kultuur doelgerig beïnvloed om produktiwiteit en volhoubaarheid te bevorder, sê Jacobs.

“Mensehulpbronnebestuurders moet uit hul kantoor kom en na die werkplek gaan, maar dit gebeur bitter min. Hulle moet die bestuur adviseer, maar weet nie hoe die werkplek lyk nie. Werknemers word objekte.”

Hy sê eksterne faktore soos hoë skuldvlakke en swak dienslewering kan werkers reeds ontevrede maak, en in sulke omstandighede kan probleme in die werkplek vinnig uitkring.
‘n Ander voorbeeld is dat uitputting by werkers wat lang tye na en van die werk reis, tot ongelukke in die werkplek kan lei.

“Dit help ook nie jy verduidelik net hoe bonusse werk nie. Werkers moet ‘n begrip hê van die basiese sakebeginsels en wêreld-werklikhede” soos hoe die internasionale vraag na platinum inkomste en lone beïnvloed.

“Maatskappye sê hulle het nie geld vir sulke onderrigprogramme nie, maar as dinge skeefloop, is die koste baie meer,” sê Jacobs.

Junaid Allie, hoof van mensehulpbronne en korporatiewe sake van Group Five, sê in dié groep is die mensehulpbronne-afdeling van die begin af betrokke by projekte en doen hulle navorsing in gemeenskappe waar ‘n nuwe projek beplan word. Dít is belangrik om te voldoen aan kontrakvereistes vir byvoorbeeld plaaslike indiensneming en om die maatskaplike kwessies te verstaan wat werkers se lewe en werk beïnvloed.

Hy kry maandeliks verslae van die betaalafdeling oor die aantal beslagleggingsbevele, lenings wat teen salarisse aangeteken word en oortydbetaling, asook tendense met gesondheidsprobleme en kwessies waaroor werkers by die maatskappy se bystandsprogram aanklop.

Individuele werkers se vertroulikheid word bewaar, maar hy kan byvoorbeeld ‘n probleem met skuld of afhanklikheid van middels in ‘n sake-eenheid of op ‘n spesifieke bouprojek vroegtydig opmerk en ingryp.

Allie sê die meeste maatskappye het toegang tot soortgelyke inligting, maar die vraag is hoe hulle dit benut.

In party maatskappye word die mensehulpbronne-afdeling nie as ‘n vennoot met ‘n strategiese rol beskou nie. Aanstellings wat met bymotiewe gedoen word, soos om ‘n myn se rugbyspan te versterk of die maatskappy se demografiese profiel te verander, word deur dié afdeling gehanteer en lynbestuurders maak neerbuigende grappies oor mensehulpbronne, sê Jacobs.

Die speelveld het egter dramaties verander en die mensehulpbronne-afdeling van ‘n onderneming moet in die hart van besluitneming wees.

Dit kan wel die weegskaal in die guns van volhoubaarheid swaai.