08 Dec Moet-hê-vaardighede vir 2013
Bloemfontein. – Werksoekers wat in 2013 die ander aansoekers wil uitstof, moenie slegs op ’n indrukwekkende lys kwalifikasies staatmaak nie.
Verskeie kundiges en werkgewers met wie Sake24 gepraat het, beklemtoon daar is deesdae nuwe ‘moet-hê-vaardighede’ in die werkplek. Dit was opmerklik dat leierskap en selfhandhawing deur verskeie kenners hoog aangeslaan is – selfs vir die laagste range.
“Elke mens het die vermoë om te lei, en as jy jou eie sterk punte en tekortkominge ken, sal jy groei as mens en as leier; tot voordeel van jouself en jou organisasie,” sê Deirdre Elphick-Moore, medestigter van The Office Coach.
Hierby voeg sy die vermoë om jouself verantwoordbaar te hou.
“Jy as werknemer het ’n impak op jou sukses of mislukking, asook op die welstand van jou onderneming. Almal in die werkplek behoort hierdie uitgangspunt te deel sodat maatskappye en gemeenskappe kan gedy.”
Daar is deesdae groot klem op multidissiplinêre spanwerk in organisasies, sê Tjaart Minnaar, besturende direkteur van OIM International, ’n sake-konsultant wat onder meer in die ontwikkeling van leierskap en prestasie spesialiseer. Spanwerk verg leiers op alle vlakke van ’n organisasie.
“Elkeen in ’n organisasie moet kan voorloop as dit nodig is, en as jy nie ’n leier op jou terrein word nie, sal iemand anders dit in jou plek word.”
Nog ’n belangrike vaardigheid is die vermoë om jou in ’n ander werknemer se skoene te kan plaas.
“In Suid-Afrika het ons al ver gevorder om kulturele diversiteit in die werkplek te verstaan.
“Ons vaar minder goed met funksionele diversiteit. Dit is die vermoë van werknemers in verskillende afdelings in ’n maatskappy om empatie met mekaar se uitgangspunte en prioriteite te hê,” sê hy.
As voorbeeld noem hy daar is dikwels konflik tussen afdelings soos bemarking en finansiële bestuur omdat hulle verskillende doelwitte nastreef. Aanpasbaarheid, buigsaamheid en die vermoë om vinnig nuwe tegnologie onder die knie te kry, is ook hoog op die meeste kundiges se lysie.
Die werkplek het die afgelope jare dramaties verander. Dit beteken werknemers moet hulself voortdurend verder bekwaam, sê Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van die werwingsgroep Manpower. Sy wys daarop dat voortdurende verandering beteken werknemers moet soms mekaar se take oorneem.
“In die huidige moeilike ekonomiese omstandighede oorleef ondernemings deur die werk onder ’n kleiner groep werknemers te verdeel. Indien jy maklik aanpas by verandering, en boonop maklik opleibaar is, is jy in aanvraag.”
Saam met aanpasbaarheid kom die vermoë om te innoveer, sê Charles Stretch, besturende direkteur van SMSPortal.
“Maatskappye soek veral na mense wat vinnig snap wat van hulle verwag word, en die struikelblokke kan oorkom. Dis hierdie soort aanpasbaarheid en moed wat spanne en organisasies dryf om te innoveer en die mededingers verby te steek.”
Werknemers wat innoveer en geleenthede skep, is geweldig waardevol vir hul maatskappye, beaam Natalie Maroun, hoofstrateeg by LRMG.
“Beste praktyk verander gedurig en dit vereis mense wat gedrewe voel om te ontdek en om meer te leer sodat hulle aan die voorpunt van verandering bly.”
Jy sal nie mededingend in die werkplek bly as jy nie voortdurend byhou met die jongste IKT-vaardighede nie, waarsku sy.
“Nuwe ontwikkelings soos wolkverwerking beteken dat kantoorwerk toenemend in die virtuele wêreld gedoen word. Jy kan dus in die omgewing van jou keuse werk – maar die regte IKT-vaardighede is die sleutel tot dié proses.”
Verskeie werkgewers het egter ook gewys op leemtes wat hulle in veral jonger werksoekers se mondering sien.
“Werkgewers soek ’n eienskap wat ek ‘professionaliteit’ sal noem,” sê dr. Erika Wassenaar, ontwikkelingsbestuurder by Business Partners. Dit behels ’n netjiese en afgeronde voorkoms, maar ook om met aandag en empatie te luister na kliënte, om kollegas in ag te neem en die werkplek op ’n hoflike wyse met hulle te deel, sê sy.
“Dis iemand wat bereid is om meer as die gewone te doen, en wat besef kliënte betaal sy salaris en is dus geregtig op sy beste diens.”
Kekeletso Khena, direkteur van die Tomorrow’s Leaders Conven¬tion, ’n organisasie wat maatskappye bystaan om uitvoerende talent te identifiseer en op te lei, sê die grootste leemte is ’n gebrek aan doodgewone gesonde verstand.
“Ek definieer dit as die kognitiewe vermoë om intuïtief te weet wat die regte ding is om te doen en dit te doen. Dít is die eienskap wat iemand laat uitstaan bo ander wat dieselfde intellektuele of tegniese vaardighede het.”
Laaste maar nie die minste nie, is ’n sin vir humor en ’n positiewe uitkyk op die lewe ’n eienskap wat werkgewers hoog op prys stel.
“Optimisme is die bes bewaarde geheim in die werkplek.
“Dis ’n emosionele bevoegdheid wat produktiwiteit opstoot, moreel verhoog, konflik ontlont en ’n wesenlike invloed op sukses kan hê,” sê Stretch.