Pak vanjaar met die vaardighede

Pak vanjaar met die vaardighede

Die jaar is reeds ‘n volle maand oud en die druk is op jou. Of jy nou ‘n nuwe werk het, vir die eerste keer die arbeidspad begin stap en of jy al jare lank by dieselfde onderneming werk – vanjaar moet jy uithaal en wys om by te bly.

Deesdae is ‘n graad, grade of diplomas nie noodwendig die antwoord of versekering dat jy sal werk kry, geoormerk is vir bevordering, of selfs in jou huidige pos sal aanbly nie. Daar is ‘n hele aantal ander moet-hê-vaardighede wat jy sal moet bekom as jy in die wedloop wil bly.
Talle kenners meen dat aspekte soos leierskap en selfhandhawing bo-aan die lys van hierdie vaardighede is.

Volgens Marieta de Wet, lektor in loopbaansielkunde en menslike hulpbronbestuur aan die Universiteit Stellenbosch, is mense in die werkplek deesdae al hoe meer op hul self aangewese om te oorleef.

“Twintig jaar gelede was dit die verantwoordelikheid van die werkgewer om te verseker dat sy werknemers vir die volgende 10 of 15 jaar ‘n werk het. Vandag is dit heeltemal anders en jy moet deur die verbetering van jou eie vaardighede daardie werksveiligheid kry,” sê sy.
De Wet sê die moet-hê-dinge is deel van ‘n lewenslange leerproses.
“In die vinnig veranderende wêreld van vandag hou leer nooit op nie en ons is nooit klaar geleer nie. Omdat ons toegang tot soveel inligting het, is daar altyd nog ‘n geleentheid om meer van iets te leer, ander dimensies raak te sien en nuwe vaardighede wat dalk op jou omstandighede van toepassing kan wees, aan te leer.

“Omdat die werkplek en ons samelewing so divers is, moet die hantering van diversiteit in die werkplek ook ‘n groot prioriteit wees. Daar is soveel verskillende tale, kulture, gelowe en selfs geslagsverskille dat ‘n mens besondere aandag hieraan moet gee – om almal gelyk te behandel en met die houding te gaan dat ek iets by iemand anders kan leer. Daar is ook groot ouderdomsverskille in die werksmag en ouer persone moet bereid wees om van die jonger generasie Y te leer – en ook andersom,” sê sy.

Tjaart Minnaar, besturende direkteur van OIM International, stem saam dat daar deesdae groot klem gelê word op multidissiplinêre spanwerk in organisasies.

“Spanwerk verg leiers op alle vlakke van ‘n organisasie en almal binne die organisasie moet die span kan lei as dit nodig is. Hiervoor moet elkeen ‘n leier op sy eie gebied word en as jy nie die geleentheid aangryp nie, gaan iemand anders jou plek vat,” sê hy.

Volgens Minnaar is nog ‘n belangrike vermoë om jou in ‘n ander werknemer of kollega se skoene te plaas.

“Ons het al ver gevorder om kulturele diversiteit in die werkplek te verstaan, maar nie soseer met funksionele diversiteit nie. Dit is die vermoë van werknemers in verskillende afdelings in ‘n maatskappy om empatie met mekaar se uitgangspunte en prioriteite te hê. Die konflik tussen afdelings in groter maatskappye, soos tussen bemarking en finansiële bestuur, moet uit die weg geruim word en almal moet saam na die maatskappy se gesamentlike doelwitte streef. Aanpasbaarheid en buigsaamheid is van die vaardighede wat aangeleer moet word,” verduidelik Minnaar.

De Wet meen ook aanpasbaarheid kan ‘n stappie verder geneem word.

“Werknemers moet aanpasbaar wees in hul werksomgewing, maar ook met die wete dat dinge nie vir altyd dieselfde sal bly nie.

“Bo alles moet jy positief leef, in jouself, in jou eie vermoëns glo en jy moet die spiritualiteit van die werkplek vind. Daar is ‘n hoër doel met alles,” sê sy.