Staak en kry klaar, is base se houding

Staak en kry klaar, is base se houding

Werkgewers sit vinniger voet neer in die huidige loononderhandelinge omdat hulle produksieverliese probeer beperk, want die onrealistiese eise van vakbonde maak stakings so te sê onafwendbaar, berig Antoinette Slabbert, Rapport.

Só sê Chris Jacobs, direkteur van die konsultasiefirma OIM International. Die Kamer van Mynwese het onlangs ‘n verhoging van net 4% in die goudsektor aangebied en Eskom het al ‘n dispuut verklaar terwyl vakbonde glo eintlik nog wou onderhandel. Werkgewers het geleer uit die onbeskermde stakings en geweld wat ‘n paar jaar gelede in die sekuriteitsbedryf begin het en in 2012 ‘n hoogtepunt in Marikana bereik het, sê Jacobs.

“By Marikana het die magiese R12 500 as salaris-eis ontstaan. Later was dit R16 400.” Daar was geen rasionele grondslag hiervoor nie.

“Werkgewers het geleer dat daar geen vorm van rasionaliteit in sekere sektore is nie,” sê Jacobs. Hulle besef die proses gaan op ‘n staking uitloop en wil so gou moontlik by dié punt uitkom en dit agter die rug kry sodat produksie hervat kan word.

Die een faktor wat in werkgewers se guns tel, is dat hulle nou die regering se steun het. “Die staat was in die verlede op die agtergrond en het van werkgewers verwag om onbeskermde stakings oor die hoof te sien en werkers bloot weer in diens te neem,” sê Jacobs. In ‘n ooreenkoms wat onder leiding van adj.pres. Kgalema Motlanthe gesluit is, het die regering hom verbind tot arbeidsvrede en optrede teen onwettige aksies. Die tyd sal leer of die regering die daad by die woord sal voeg, maar werkgewers het nou die regering se steun vir meer besliste optrede, sê Jacobs.

Dit lyk egter uit Eskom se optrede by Medupi of hy nog nie op dieselfde golflengte is nie en nog die Marikana-model gebruik deur stakers met bonusse terug te lok werk toe. Dit veroorsaak probleme vir kontrakteurs wat die werkers moet bestuur, sê Jacobs. Die verliese wat werkgewers ly weens Eskom se inmenging in arbeidsverhoudinge, sal later van die kragreus teruggeëis word. Hy werk egter met openbare geld en burgers sal uiteindelik daarvoor moet opdok, sê hy.

Jacobs meen die onstabiliteit in die arbeidsmark, veral in die goud- en die platinumsektor, sal nog ‘n paar jaar voortduur. Die mededinging tussen die National Union of Mineworkers (NUM) en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) is buite beheer en albei probeer op kort termyn lede met onrealistiese eise trek. Werkgewers het geen beheer daaroor nie en weet die onderhandelinge gaan baie moeilik wees. Hulle probeer dus so vinnig moontlik by die punt van ‘n staking of arbitrasie uitkom, wetende dat wanneer produksie dan voortgaan, die ekonomiese situasie verder sou verswak het, veral by party skagte, sê Jacobs. “Nog skagte gaan sluit en meer mense gaan hul werk verloor.”

Hy waarsku dat Amcu nie geringgeskat moet word nie. “Amcu is al meer as tien jaar aan die gang en het nou momentum gekry. Hy het die meerderheid in die kernmyne in die goudbedryf en ook in die drie groot platinummyne in dié bedryf verkry. Sy leiers, Joseph Mathunjwa en Jimmy Gama, kom van Mpumalanga en dít sal dit waarskynlik vir hulle maklik maak om volgende na die steenkoolbedryf uit te brei.”

Die NUM het tot dusver baie op politiek gefokus en moet besin oor hoe hy sy lede verteenwoordig, sê Jacobs. Hy het in dié opsig ‘n vakuum gelaat wat volgens Jacobs deur Amcu gevul is. Amcu sê tot dusver hy is nie by die politiek betrokke nie, maar in die aanloop tot die algemene verkiesing in 2014 flikflooi politici volgens Jacobs reeds vir die vakbond se steun.

Amcu se eksponensiële groei sal egter beperk word namate werkers begin besef dat niks van sy wonderlike beloftes kom nie.

Hy sê mededinging tussen vakbonde wat by Cosatu geaffilieer is, soos die National Union of Metalworkers (Numsa), die NUM, Saccawu en Fawu, veroorsaak verdere onstabiliteit en werkgewers moenie te veel hulp van die regering verwag nie. Die regering en werkgewers het toegelaat dat die huidige situasie ontwikkel, sê Jacobs. Hulle het nie die tekens reg gelees nie en was te veel by die NUM ingekruip.

Arbeidsverhoudinge is nou weer waar dit in die woeste 1980’s was, maar werkgewers het nie meer die kundigheid van mensehulpbronbestuurders wat in daardie jare taai uit die stryd gekom het nie. Hy raai hulle aan om daarop te fokus om ‘n direkte verhouding met werkers te bou pleks daarvan om die kommunikasie met hul werkmag in die hande van vakbondleiers te laat, soos wat hulle tot nou toe gedoen het. Tans verloor werkers deurlopend omdat die werkgewer sy rol geabdikeer en dit op ‘n skinkbord aan die vakbonde oorhandig het, sê hy.