Subkontrakteur se kop op blok

Subkontrakteur se kop op blok

Pretoria. – ‘n Klagte van bedrog staar ‘n subkontrakteur by Eskom se beleërde Medupi-bouperseel in die gesig weens foutiewe sweiswerk wat deels gelei het tot ‘n vertraging van maande lank.

Volgens Natasha Michael, DA-woordvoerder oor openbare ondernemings, is parlementslede verlede week hieroor ingelig tydens ‘n besoek van die portefeuljekomitee vir openbare ondernemings aan die perseel.

Dié besoek het gepaardgegaan met arbeidsonrus Woensdag oor reistoelae waartydens vier voertuie glo aan die brand gesteek, 23 mense beseer en meer as 40 in hegtenis geneem is.

Die perseel is sedertdien nog nie heropen nie. Werkers sou volgens plan Donderdagmiddag vroeg huistoe gegaan het vir ‘n langnaweek. Die tyd sal leer of werk Dinsdag hervat word.

Eskom het onlangs aangekondig Medupi sal waarskynlik eers in die tweede helfte van volgende jaar sy eerste elektrisiteit lewer, pleks van Desember vanjaar. Dít terwyl die land bitter min reserwekrag het en ‘n gebrek aan bykomende opwekkingsvermoë die ekonomie demp.

Volgens Michael het amptenare van Hitachi Power Africa parlementslede ingelig die subkontrakteur het Eskom en Hitachi mislei om te glo gehalte-toetse is op die ketels uitgevoer.

“Dit is nie gedoen nie. Gevolglik moes al die sweislaste op die ketel in eenheid ses weer nagegaan word en baie moes vervang word,” het sy gesê.

Die DA het die indiening van strafregtelike klagte verwelkom, maar is besorg dat Hitachi die naam van die subkontrakteur verswyg. “Suid-Afrikaners moet weet watter organisasie is verantwoordelik vir die foutiewe diensverskaffing en wie Eskom en die land mislei het,” sê sy.

Steven Nhlapo, sektorkoördineerder vir energie van die metaalwerkersvakbond Numsa, sê dis maklik om die skuld op die subkontrakteur te plaas. Hulle werk egter volgens spesifikasies wat aan hulle gegee word. Die sweiswerk is volgens hom oor ‘n tydperk van twee jaar gedoen. Waar was Eskom se projekbestuurders dat hulle nie lont geruik het nie, vra hy.

Nhlapo sê Eskom se direksie moet tot verantwoording geroep word. Hulle het pres. Jacob Zuma, wat meer as ‘n jaar gelede persoonlik ‘n druktoets op die ketel van eenheid ses gedoen het, en die hele land vir die gek gehou, sê hy.

Volgens Michael het vakbonde verlede week aan parlementslede gesê ondanks nuwe ooreenkomste en meganismes is kommunikasie tussen Eskom, kontrakteurs en vakbonde by Medupi steeds ‘n probleem.

Dit is Woensdag onderstreep deur die onbeskermde staking, waarvan nie Eskom, die vakbonde of kontrakteurs vooraf geweet het nie, het Michael gesê.

Chris Jacobs, direkteur van die konsultasiefirma OIM International, sê Eskom het ‘n lat vir sy eie bas gepluk deur telkens toe te gee aan werkers se eise.

Werkers is vroeër vanjaar met ‘n bonus teruggelok werk toe nadat bouwerk maande lank deur ‘n onbeskermde staking verlam is.

Volgens Jacobs word elke oorwinning vir werkers die grondslag vir ‘n volgende, meer onrealistiese eis. Dit is ‘n voortsetting van die tendens van bestaande loonooreenkomste in die platinumsektor wat onder druk heropen is.

Hy meen Eskom is onverantwoordelik, want hy werk nie met sy eie geld nie. Vir elke toegewing sal belastingbetalers later op die een of ander manier die rekening moet betaal, sê hy.

Jacobs sê as Eskom nie sy voet neersit nie, sal die arbeidsonrus voortduur en die kragstasie nooit klaar kom nie.

Die regering, Eskom se enigste aandeelhouer, het toegang tot ‘n groot deel van georganiseerde arbeid deur Cosatu, sy alliansievennoot. Húlle behoort onder mekaar ‘n oplossing te vind, sê Jacobs.